SWANIES

Juffrou Marelize Swanepoel

Wie is Juffrou Marelize Swanepoel?

Ek is 'n taaljuffrou wat my passie en entoesiasme wil deel met soveel mense as moontlik. Ek het groot geword in die Oosrand waar my laerskool Afrikaans juffrou, Isabelle Spies (Laerskool Elsburg), 'n onblusbare liefde vir boeke en lees by my aangevuur het. Sy was een van die grootste redes waarom ek 'n Afrikaans juffrou geword het. 

 

My passie vir Afrikaans het in 1997 ontkiem en groei al vir meer as 20 jaar. My droom was om 'n loopbaan te volg in Afrikaans, enigiets, solank ek dit in Afrikaans kon doen. Ek besluit toe om te kwalifiseer as 'n taalpraktisyn by die Universiteit van Johannesburg (toe RAU), waarna ek my PGCE (Senior and FET) voltooi by UNISA. Ek was bevoorreg om in 2016 die geleentheid te kry om my honneurs in Afrikaans Taalpraktyk by UJ te voltooi met 'n 100% beurs. 

 

Dit is hier waar my pad met Karien Brits van die ATKV gekruis het. Onder haar leiding is ek betrek by die Skitter in Afrikaans-werkswinkels vir onderwysers in verskillende provinsies. In dieselfde jaar word ek 'n Ambassadeur vir Afrikaans by Afrikaans.com. 

 

Dit was 'n groot verrassing toe Ria Olivier, van die Afrikaanse Taalraad, my met goeie nuus in 2017 gekontak het. Ek het 'n nominasie gekry om 'n erepenning (Kokertoekenning) by die Afrikaanse Taalraad te ontvang vir die werk wat ek in en vir Afrikaans doen.  Ek het 17 November 2017 die voorreg gehad om na Zevanwacht, Kuilsrivier toe te vlieg om die Afrikaanse Taalraad Kokerfunksie by te woon. 

 

Kort daarna het NB-uitgewers my genader om twee Afrikaans EAT-handleidings vir hulle te skryf. Die handleidings is uiteindelik in 2021 gepubliseer en is steeds beskikbaar by Exclusive Books, PNA en Takealot.